Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:18-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Daarna moet Aäron uitgaan na die altaar toe in die teenwoordigheid van die Here en dit reinig: hy moet van die bloed van die bul en die bokram rondom al die horings van die altaar smeer

19. en met sy vinger van die bloed sewe keer op die altaar sprinkel. So moet hy die altaar reinig van die onreinheid van die Israeliete en dit wy.

20. “Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring.

21. Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag.

22. So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na 'n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.

23. “Aäron moet dan in die tent van ontmoeting ingaan en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste ingegaan het, uittrek en dit daar neersit.

24. Hy moet hom op 'n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en die brandoffer vir die versoening van sy eie sonde bring, asook die brandoffer vir die versoening van die sonde van die volk.

25. Hy moet ook die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand.

26. Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moet sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom.

27. Die sondeofferbul en die sondeofferbok waarvan die bloed gebruik is om versoening te doen in die Allerheiligste, moet buite die kampplek verbrand word, velle, vleis, pensmis en al.

28. Die man wat dit verbrand het, moet eers sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom.

29. Julle moet dit as 'n vaste instelling handhaaf dat julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat by julle woon, moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand,

30. want op dié dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16