Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Aäron se twee seuns het gesterf toe hulle 'n offer aan die Here wou bring, en na aanleiding daarvan het die Here vir Moses 'n opdrag gegee.

2. Hy het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron hy mag nooit sommer in die heiligdom agter die voorhangsel ingaan na die deksel van die verbondsark toe nie. Ek verskyn telkens in 'n wolk bokant die deksel van die ark en as Aäron sommer ingaan, sal hy sterwe.

3. Voordat hy in die Allerheiligste ingaan, moet hy 'n jong bul as sondeoffer bring en 'n ram as brandoffer.

4. Verder moet hy die gewyde klere van 'n gewone priester aanhê oor 'n broek en hy moet 'n serp om sy lyf en 'n tulband op sy kop hê. Dit moet alles gewyde linneklere wees. Hy moet hom was voor hy dit aantrek.

5. Van die gemeente Israel moet hy twee bokramme as sondeoffer kry en een skaapram as brandoffer.

6. Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters.

7. Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here.

8. Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’.

9. Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as 'n sondeoffer offer.

10. Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16