Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14:41-57 Afrikaans 1983 (AFR83)

41. Al die pleister in die huis moet dan afgekrap en ook buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

42. Hulle moet dan ander klippe in die muur inbou en die hele huis oorpleister.

43. “As daar weer swamme groei nadat die klippe uitgebreek, die pleister afgekrap en die huis oorgepleister is,

44. moet die priester weer gaan kyk. As dit inderdaad weer uitgeslaan het, is dit skadelike swamme. Daardie huis is onrein.

45. Dit moet afgebreek word en die klippe, houtwerk en klei moet buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

46. Iemand wat in die huis ingaan in die tyd dat toegang verbied is, sal die res van die dag onrein wees

47. en as hy in die huis slaap of eet, moet hy ook sy klere was.

48. “As die priester egter vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die huis oorgepleister is nie, moet hy dit rein verklaar aangesien daar nie meer swamme is nie.

49. Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie vat.

50. Hy moet die kop van die een voël afsny oor 'n erdebakkie waarin vars water is,

51. en dan die stukkie sederhout, die hisoptakkie, die bloedrooi garing en die lewende voël dompel in die vars water met die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet die water met die bloed in sewe keer teen die huis sprinkel.

52. So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water en deur middel van die lewende voël, die stukkie sederhout, die hisoptakkie en die bloedrooi garing.

53. Daarna moet hy die lewende voël buite die dorp loslaat in die oop veld. So doen die priester versoening vir die huis en word dit rein.”

54. Die voorafgaande voorskrifte het betrekking op skurfsiekte,

55. skimmel aan klere, swamme in 'n huis,

56. swelsels, uitslag en sere wat onrein maak.

57. So moet vasgestel word wanneer iets rein of onrein is. Dit is die voorskrif in verband met dinge wat onrein maak.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 14