Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14:22-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Verder moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe gebruik, een vir die sondeoffer en een vir die brandoffer.

23. Hy moet dit op die agste dag van sy reiniging vir die priester bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.

24. Die priester moet dan die skuldofferlam en die halwe liter olie as beweegoffer vir die Here aanbied.

25. Daarna moet die priester die skuldofferlam slag en van die bloed smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word.

26. Daarna moet die priester van die olie in die palm van sy eie linkerhand gooi

27. en dit met 'n vinger van sy regterhand sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here.

28. Hy moet ook van die olie in sy handpalm bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is wat gereinig word.

29. Die priester smeer die olie wat in sy handpalm oor is, aan die persoon se kop. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon.

30. Die priester moet dan een van die twee tortelduiwe of ander duiwe wat die man gebring het,

31. as 'n sondeoffer bring en die ander as 'n brandoffer saam met die graanoffer. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon wat gereinig word.

32. Hierdie voorskrif moet geld in die geval van 'n persoon wat 'n velsiekte gehad het wat hom onrein gemaak het en wat nie die gewone reinigingsoffers kan bekostig nie.”

33. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

34. “Julle gaan intrek in die land Kanaän wat Ek vir julle as besitting gee. As Ek dan swamme laat groei in een van die huise in die land wat julle sal besit,

35. moet die eienaar van die huis vir die priester gaan sê: ‘Dit lyk my daar is 'n swamplaag in my huis.’

36. Die priester moet dan beveel dat die huis ontruim word voordat hy die swamme gaan ondersoek, anders word alles in die huis dalk onrein verklaar. Eers daarna kan hy die huis gaan ondersoek.

37. As die priester sien dat die swamme aan die mure van die huis sit en dat dit groenerige of rooierige holtes vorm wat lyk of dit dieper is as die oppervlak van die muur,

38. moet hy uit die huis uitgaan en toegang tot die huis 'n week lank verbied.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 14