Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:17-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Toe hy die families uit Juda laat nader kom, is die Seragfamilie aangewys, en toe hy die Seragfamilie man vir man laat nader kom, is Sabdi aangewys.

18. Toe hy die gesin van Sabdi man vir man laat nader kom, is Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam aangewys.

19. Josua het vir Akan gesê: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom. Sê my wat jy gedoen het, moet dit nie vir my wegsteek nie.”

20. Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het gesondig teen die Here die God van Israel. Wat ek gedoen het, is dit:

21. ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.”

22. Josua het mense gestuur, en hulle het na die tent toe gehardloop en daar kry hulle toe die goed in Akan se tent, die silwer onder.

23. Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring. Toe hulle dit daar voor die Here uitskud,

24. vat Josua en die hele Israel saam met hom vir Akan seun van Serag en bring hom na die Akorlaagte toe, en ook die silwer, die klere en die staaf goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent, alles wat aan hom behoort.

25. Josua het gesê: “Jy het die dood oor óns gebring, vandag bring die Here die dood oor jóú!”Die hele Israel het toe vir Akan met klippe doodgegooi en hom en sy mense en sy besittings verbrand en met klippe toegegooi.

26. Hulle het 'n groot hoop klippe bo-oor gepak. Dit is vandag nog daar. Daarna het die Here se toorn bedaar. Hulle noem die plek tot vandag toe die Akorlaagte.

Lees volledige hoofstuk Josua 7