Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Israeliete het troueloos gehandel met die banoffer wat aan die Here behoort het. Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam, het van die goed wat aan die Here gewy was, gevat en daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam.

2. Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.”Die manne is toe weg en het Ai verken.

3. Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. So twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.”

4. Daar het toe omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, maar hulle moes op die vlug slaan vir die mense van Ai,

5. en dié het omtrent ses en dertig van hulle doodgemaak. Die mense van Ai het van die stadspoort af op hulle hakke gebly tot by die klipskeure en hulle daar teen die afdraand doodgemaak.Die volk se moed is gebreek,

6. en Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig in die grond gelê voor die ark van die Here, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi.

7. Daarna het Josua gesê: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer oorkant die Jordaan gebly!

8. Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug?

9. Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en alle gedagtenis aan ons uit die land uitroei! Wat sal U dán doen om die grootheid van u Naam te verseker?”

10. Toe sê die Here vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?

11. Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek. Hulle het van die goed wat aan My gewy is, gevat, hulle het gesteel, hulle het gelieg en van die goed by hulle s'n gesit.

Lees volledige hoofstuk Josua 7