Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:7-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.”

8. Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshorings terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom.

9. Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

10. Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of 'n geluid laat hoor nie; nie 'n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.”

11. Josua het die ark van die Here toe om die stad laat gaan. Toe dit een maal om was, het hulle na die kamp toe teruggegaan en die nag in die kamp deurgebring.

12. Die volgende môre het Josua vroeg begin. Die priesters het die ark van die Here gedra.

13. Die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

14. Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen.

15. Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan.

16. Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor!

17. Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek.

18. Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor.

19. Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.”

20. Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem

21. en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22. Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.”

23. Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig.

Lees volledige hoofstuk Josua 6