Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 4:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan.”

8. Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit.

9. Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar.

10. Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan.

11. Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk.

12. Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek.

13. Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe.

14. Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15. Die Here het vir Josua gesê:

16. “Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.”

17. Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom,

18. en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom.

Lees volledige hoofstuk Josua 4