Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:24-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. En die volk sê vir Josua: “Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.”

25. Josua het daardie dag vir die volk 'n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê.

26. Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, 'n groot klip gevat en dit daar onder 'n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit.

27. Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”

28. Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

29. Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar.

30. Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg.

31. Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

32. Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword.

33. Ook Eleasar seun van Aäron is oorlede. Hy is begrawe in Gibea, 'n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas toegeken was.

Lees volledige hoofstuk Josua 24