Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Josua het al die stamme van Israel bymekaargebring in Sigem. Hy het die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep, en hulle het hulle plekke kom inneem in die teenwoordigheid van God.

2. Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders — onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor — anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien.

3. Ek het julle voorvader Abraham anderkant die Eufraat geneem en hom die hele Kanaän laat deurgaan. Ek het hom baie nakomelinge gegee. Aan hom het Ek vir Isak gegee,

4. aan Isak vir Jakob en Esau. Aan Esau het Ek die Seïrberge gegee om in besit te neem, maar Jakob en sy nageslag is af na Egipte toe.

5. “Ek het vir Moses en Aäron gestuur en Ek het Egipte met rampe getref soos Ek dit goedgevind het. Daarna het Ek julle uitgebring:

6. Ek het julle voorvaders uit Egipte gebring, en toe hulle by die Rietsee kom, het die Egiptenaars hulle agtervolg met strydwaens en ruiters.

7. Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly.

8. “Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee sodat julle hulle land in besit kon neem. Ek het hulle uitgeroei om vir julle plek te maak.

9. “Toe Balak seun van Sippor en koning van Moab teen Israel oorlog wou maak, het hy vir Bileam seun van Beor laat roep om 'n vloek oor julle uit te spreek.

Lees volledige hoofstuk Josua 24