Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar.

11. Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant.

12. Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam.

13. Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14. Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep.

15. Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme:

16. “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom!

17. Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het.

18. Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel.

19. As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 22