Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 2:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding

13. dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”

14. Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s'n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”

15. Sy het hulle met 'n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het.

16. Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.”

17. Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind

18. as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou.

19. Enigeen wat by jou huis se deure uitgaan buitentoe, sal self vir sy dood verantwoordelik wees, nie ons nie. Ons hou ons verantwoordelik vir enigeen wat by jou in die huis is; daar sal nie 'n hand teen hom gelig word nie.

20. En as jy oor ons praat, is ons nie gebind aan die eed wat jy ons laat aflê het nie.”

21. Sy het gesê: “Laat dit wees soos julle gesê het,” en sy het hulle laat gaan en hulle is weg. Sy het toe die bloedrooi tou aan die venster vasgebind.

22. Hulle het vertrek en is die berge in. Daar het hulle drie dae gebly tot die mense wat hulle gaan soek het, teruggekom het. Die mense het langs die hele pad gesoek en niks gekry nie.

23. Daarna het die twee manne uit die berge teruggekom en is hulle die rivier oor na Josua seun van Nun toe. Hulle het hom alles vertel wat met hulle gebeur het.

24. Hulle het vir Josua gesê: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.”

Lees volledige hoofstuk Josua 2