Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 41:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Ismael seun van Netanja het hulle huil-huil uit Mispa tegemoet gegaan, en toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom saam na Gedalja seun van Agikam toe!”

7. Maar toe hulle binne in die stad is, het Ismael seun van Netanja, hy en die manne wat by hom was, sewentig van die mans doodgemaak en in 'n put gegooi.

8. Die ander tien mans het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, ons het koring en gars en olie en heuning wat in die veld weggesteek is!”Hy het hulle toe laat staan en hulle nie saam met hulle vriende doodgemaak nie.

9. Die put waarin Ismael die lyke gegooi het van die mans wat hy doodgemaak het, was dié een wat deur koning Asa gegrawe is toe hy deur koning Baesa van Israel beleër is. Ismael seun van Netanja het die put vol lyke gemaak.

10. Daarna het Ismael al die mense gevange geneem wat nog in Mispa oor was, die prinsesse en al die ander mense wat in Mispa oor was en wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam geplaas was. Ismael seun van Netanja het hulle gevange geneem en vertrek om na die Ammoniete toe te gaan.

11. Toe Joganan seun van Kareag, en al die bevelhebbers van die soldate wat by hom was, hoor van al die gruweldade wat Ismael seun van Netanja begaan het,

12. het hulle al hulle manskappe gevat en vertrek om vir Ismael seun van Netanja aan te val. Hulle het hom by die groot dam in Gibeon gekry.

13-14. Al die mense by Ismael, die mense wat hy gevange uit Mispa weggevoer het, was bly toe hulle vir Joganan seun van Kareag en al die leëraanvoerders by hom sien. Hulle het omgedraai en teruggekom na Joganan seun van Kareag toe.

15. Maar Ismael seun van Netanja het met ag man weggekom van Joganan af en is na die Ammoniete toe.

16. Joganan seun van Kareag en al die leëraanvoerders by hom het al die mense saamgeneem wat oor was, al die mans, die soldate, die vrouens, kinders en ontmandes wat hy by Gibeon bevry het en wat deur Ismael seun van Netanja weggevoer was uit Mispa nadat hy vir Gedalja seun van Agikam vermoor het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 41