Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die vierde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom:

2. Vat vir jou 'n boekrol en skryf daarop al die woorde wat Ek oor Israel en oor Juda en oor al die nasies met jou gepraat het vandat Ek met jou begin praat het in die dae van Josia tot nou toe.

3. As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer. Dan sal Ek hulle ongeregtighede en hulle sondes vergewe.

4. Toe het Jeremia vir Baruk seun van Nerija geroep, en hy het al die woorde van die Here wat die Here vir Jeremia gesê het, opgeteken soos Jeremia dit gedikteer het.

5. Daarna het Jeremia vir Baruk gesê: “Ek is ingeperk. Ek kan nie na die huis van die Here toe gaan nie.

6. Gaan jy op 'n vasdag en lees die boekrol waarin die woorde van die Here is wat ek vir jou gedikteer het. Die volk wat in die huis van die Here is en die hele Juda wat uit hulle stede gekom het, moet dit kan hoor. Jy moet dit vir hulle lees.

7. Miskien sal hulle dan by die Here pleit en sal elkeen hom bekeer van sy verkeerde pad. Die Here het aangekondig dat Hy in sy gloeiende toorn hierdie volk swaar sal straf.”

8. Baruk seun van Nerija het toe alles gedoen wat die profeet Jeremia hom beveel het: hy het die boek met die woorde van die Here in die huis van die Here gaan lees.

9. In die negende maand van die vyfde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, is 'n vasdag in die teenwoordigheid van die Here vir die hele volk in Jerusalem aangekondig. Die hele volk het uit die stede van Juda in Jerusalem gekom.

10. Baruk het toe die boek met die woorde van Jeremia begin lees in die huis van die Here, in die sykamer van Gemarja seun van die staatsekretaris Safan. Die hele volk kon dit hoor. Die sykamer was in die boonste voorhof by die ingang van die nuwe poort van die huis van die Here.

11. Toe Miga seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here hoor uit die boek,

12. het Miga na die staatsekretaris se kantoor in die paleis toe gegaan. Al die amptenare, Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en al die ander amptenare het daar gesit.

13. Miga het vir hulle alles vertel wat hy Baruk vir die volk uit die boek hoor lees het.

14. Toe stuur al die amptenare vir Jehudi seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Vat die boekrol waaruit jy vir die volk gelees het en kom hier.” Baruk seun van Nerija het toe die boekrol gevat en na hulle toe gegaan.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36