Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:3-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Jy sal nie uit sy mag ontsnap nie, want jy sal beslis gevang en in sy mag oorgegee word. Jy sal die koning van Babel met jou eie oë sien en self met hom praat en dan sal jy na Babel toe gaan.

4. Maar luister na die belofte van die Here, koning Sedekia van Juda! So sê die Here oor jou: Jy sal nie deur die swaard sterf nie.

5. Jy sal in vredestyd sterf en soos die mense wierook gebrand het ter ere van jou voorvaders, die vroeëre konings wat jou voorgangers was, so sal die mense dit vir jou doen. Hulle sal oor jou treur en sê: “Ons arme koning.” Ek het hierdie belofte gemaak, sê die Here.

6. Die profeet Jeremia het toe al hierdie woorde in Jerusalem oorgedra aan koning Sedekia van Juda.

7. Dit was in die tyd toe die leër van die koning van Babel teen Jerusalem geveg het en teen al die stede van Juda wat nog weerstand gebied het, teen Lakis en Aseka, wat die enigste versterkte stede in Juda was wat nog oorgebly het.

8. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom nadat koning Sedekia 'n ooreenkoms met die hele volk wat in Jerusalem was, aangegaan het om hulle slawe vry te laat.

9. Elkeen sou sy slaaf of slavin van Hebreeuse afkoms vrylaat, geen Judeër sou 'n volksgenoot as slaaf aanhou nie.

10. Al die amptenare en die hele volk wat die ooreenkoms aangegaan het om hulle slawe en slavinne vry te laat sodat hulle nie meer diens moes lewer nie, het hulle vrygelaat.

11. Maar die eienaars het agterna van gedagte verander en hulle slawe en slavinne wat vrygelaat was, gedwing om weer slawe en slavinne te wees en hulle mishandel.

12. Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

13. So sê die Here die God van Israel: Die dag toe Ek julle voorvaders uit die plek van slawerny, uit Egipte laat wegtrek het, het Ek 'n verbond met hulle gesluit:

14. Aan die einde van sewe jaar moet julle elke Hebreeuse volksgenoot wat hom as slaaf aan julle verkoop het, vrylaat. Nadat hy julle ses jaar lank as slaaf gedien het, moet julle hom vrylaat en van julle af wegstuur. Maar julle voorvaders het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie.

15. Julle het onlangs egter tot bekering gekom en gedoen wat reg is in my oë deur julle volksgenote wat slawe was, vry te laat. Julle het selfs 'n ooreenkoms voor My aangegaan in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34