Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:9-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Dit sal my Naam groot maak en aan My blydskap verskaf, aan My lof en eer gee voor al die nasies van die aarde wanneer hulle hoor van al die goeie wat Ek vir my volk gedoen het. Die nasies sal bang wees en My dien oor al die goeie wat Ek doen en oor die vrede wat Ek vir Jerusalem gee.

10. So sê die Here: Daar word nog gehoor dat julle van hierdie plek sê dit is verwoes, sonder mense en sonder diere. Maar in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes en sonder mense en sonder inwoners en diere was,

11. sal daar weer blydskap en vreugde wees, ook huweliksfeeste, die mense sal die Here die Almagtige loof. Dié wat dankoffers na die huis van die Here toe bring, sal sê:“Loof die Here die Almagtige, want Hy is goed,aan sy liefde is daar geen einde nie.”Ek sal die lot van die land verander,dit sal weer wees soos vroeër, sê die Here.

12. So sê die Here die Almagtige: In hierdie plek wat so verwoes is dat geen mens of dier oorgebly het nie, en by al sy stede sal weer weiveld vir kuddes wees, lêplek vir kleinvee.

13. In die stede van die Bergland, in dié van die Laeveld en in dié van die Suidland, in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, en in die stede van Juda sal daar weer kleinvee wees om te tel, sê die Here.

14. Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33