Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:10-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op 'n skaal.

11. Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat

12. en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13. “In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel:

14. ‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in 'n kleipot sodat hulle lank kan hou,

15. want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

16. “Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid:

17. Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.

18. U bewys u troue liefde aan duisende geslagte, maar U straf kinders vir die sondes van hulle ouers. Groot en magtige God, u Naam is Here die Almagtige.

19. U besluite is magtig, u dade groot. U sien alles wat die mense doen. U gee aan elkeen wat hom toekom, U beloon elkeen volgens sy dade.

20. Die tekens en wonders wat U in Egipte gedoen het, doen U nou nog in Israel en onder die mense. So maak U vir U 'n Naam tot vandag toe.

21. “U het u volk Israel uit Egipte laat wegtrek met tekens en met wonders, met magtige dade en met wonderlike groot dade waarvoor mense vreesbevange was.

22. U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

23. U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom.

24. Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.

25. En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou 'n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

26. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

27. Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

28. So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal dit verower.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32