Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 11:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:

2. Luister na die bepalings van hierdie verbond en sê dit vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem.

3. Sê vir hulle: So sê die Here, die God van Israel: Vervloek is elkeen wat ongehoorsaam is aan die bepalings van hierdie verbond

4. wat Ek julle voorvaders beveel het toe Ek hulle uit Egipte, uit die ystersmeltoond, bevry het. Ek het gesê: Luister na My en doen alles wat Ek julle beveel, dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees.

5. Só sal Ek die belofte bevestig wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders gemaak het, dat Ek aan hulle 'n land sal gee wat oorloop van melk en heuning soos julle dit vandag het.Ek het geantwoord: “Amen, Here.”

6. Die Here sê toe vir my: Roep al hierdie woorde uit in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem: Luister na die bepalings van hierdie verbond en kom hulle na!

7. Ek het julle voorvaders voortdurend vermaan, vandat Ek hulle uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het hulle voortdurend vermaan en gesê: Luister na My!

8. Maar hulle het nie geluister nie, nie daarop ag geslaan nie; elkeen het koppig bly volhard in sy sonde. Daarom het Ek al die strawwe wat bepaal is in hierdie verbond, oor hulle gebring, die verbond wat Ek hulle beveel het om na te kom, maar wat hulle nie nagekom het nie.

9. Die Here het vir my gesê: Die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem het teen My saamgesweer:

10. hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders; hulle weier om na my woorde te luister, hulle loop agter ander gode aan en dien hulle; Israel en Juda het die verbond verbreek wat Ek met hulle voorvaders gemaak het.

11. Omdat dit so is, sê die Here, bring Ek 'n ramp oor hulle waaraan hulle nie sal kan ontkom nie. Hulle sal na My om hulp roep, maar Ek sal nie na hulle luister nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 11