Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 49:9-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Jy is 'n leeu, my seun Juda,wat van die prooi af wegstap.Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos 'n leeu,soos 'n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.

10. Jy sal altyd heers,jy sal aanhou regeertotdat Silo kom,die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.

11. Hy maak sy rydier vas aan 'n wingerdstok,sy donkie aan die beste wingerdstok.Sy klere is so rooi soos wyn,sy koningskleed so rooi soos druiwesap.

12. Sy oë is donkerder as wyn,sy tande witter as melk.

13. “Sebulon woon by die strand,by die strand waar skepe is,sy oë is op Sidon gerig.

14. “Issaskar is 'n sterk pakdier,hy gaan lê tussen sy twee saalsakke.

15. Hy sien 'n goeie woonplek,'n mooi landstreek,en daarvoor onderwerp hy hom aan dwangarbeid,doen hy slawewerk.

16. “Dan is een van die stamme van Israel,hy handhaaf die reg van sy volk.

17. Dan is 'n slang op die pad,'n horingslang op die grootpad,hy pik die perd aan sy hakskeen,die ruiter val agteroor.

18. “Ek wag dat U red, Here!

19. “Gad — 'n bende oorval hom,maar hy val hulle van agter af aan.

20. “Aser eet ryk kos,hy eet koningskos.

21. “Naftali is 'n takbok wat vry rondloop,hy het 'n mooi nageslag.

22. “Josef is 'n boom wat vrugte dra,'n vrugteboom by die fontein,sy takke groei oor die omheining.

23. Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan,hulle is baie en hulle is sy vyande.

24. Maar hulle boog misluk elke keer,hulle sterk arms bewe,want die magtige God van Jakob gryp in,die Rots van Israel beskerm hom.

25. Die God van jou vader sal jou help, Josef,die Almagtige sal jou seën,Hy seën jou met reën uit die hemel,met water diep onder die grond uit,met moeders wat hulle kinders voed,met baie kinders.

Lees volledige hoofstuk Genesis 49