Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl.

2. Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras.

3. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan.

4. Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op.Daarna het die farao wakker geskrik.

5. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel.

6. Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.

7. Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom.

8. Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.

9. Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het.

10. U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag.

11. “Daar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg.

12. Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41