Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 38:20-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Juda het sy vriend, Gira van Adullam, gestuur met die boklam om die pand by haar te gaan haal, maar hy kon haar nie opspoor nie.

21. Hy het navraag gedoen by die mense van die plek waar sy gesit het. Hy het gevra: “Waar is daardie tempelprostituut wat by Enajim langs die pad was?”Hulle het hom geantwoord: “Hier by ons is nie 'n tempelprostituut nie.”

22. Hy is toe terug en het vir Juda gesê: “Ek kon haar nie kry nie. En die mense van daardie plek sê self ook daar is nie 'n tempelprostituut by hulle nie.”

23. Toe sê Juda: “Laat sy die goed hou. Netnou maak ek nog 'n gek van my. Ek sou die boklam stuur, maar jy kon die vrou nie kry nie.”

24. Drie maande later is aan Juda vertel: “Jou skoondogter Tamar het haar soos 'n prostituut gedra en is swanger.”Toe sê hy: “Bring haar uit dat sy kan verbrand word.”

25. Maar toe hulle haar wou gaan haal, stuur sy 'n boodskap na haar skoonpa toe: “Die man aan wie hierdie goed behoort — ek het by hom swanger geword. Stel vas aan wie hierdie seëlring met die ketting en die kierie behoort.”

26. Juda het dit herken en gesê: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”Juda het nooit weer met haar gemeenskap gehad nie.

27. Toe die tyd van haar bevalling aanbreek, het dit geblyk dat sy 'n tweeling verwag.

28. Toe die geboorte begin, het een van die twee sy hand uitgesteek en die vroedvrou het dit gegryp en 'n stukkie rooi garing daarom gebind. Sy het gesê: “Hierdie een is eerste.”

29. Maar toe trek hy sy hand terug en sy broertjie kom. Toe sê sy: “Jy het met krag vorentoe gekom.”Hy is toe Peres genoem.

30. Daarna het die broertjie gekom om wie se hand die rooi garing was, en hy is Serag genoem.

Lees volledige hoofstuk Genesis 38