Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe.

15. Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom 'n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16. Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

17. Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry.

18. Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak.

19. Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan.

20. Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan sê 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21. Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie.

22. Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23. Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het,

24. en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water.

25. Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37