Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:24-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Isak het vir hom gesê: “Jy is tog my seun Esau!” en Jakob het gesê: “Ek is.”

25. Toe sê Isak: “Gee die wild aan dat ek daarvan kan eet, my seun, en jou dan kan seën.”Hy het dit vir hom aangegee en Isak het geëet, en Jakob het vir hom wyn gebring, en hy het dit gedrink.

26. Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!”

27. Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê:“Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk,die veld wat deur die Here geseën is.

28. God gee aan jou dou uit die hemel,die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed.

29. Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig;oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig.Wie 'n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees,wie jou seën, sal geseën wees.”

30. Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af.

31. Ook hý het 'n lekker ete voorberei en dit vir sy pa gevat. Esau het vir sy pa gesê: “Sit regop, Pa, en eet van Pa se seun se wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

32. Toe vra sy pa Isak: “Wie is jy?” en hy antwoord: “Pa se seun Esau, Pa se oudste.”

33. Isak was toe baie ontsteld en hy vra: “Maar wie het dan die wild geskiet en vir my gebring? Ek het daarvan geëet net voor jy gekom het. Ek het hóm geseën, en hy sal geseën bly.”

34. Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: “Pa, seën my tog ook!”

35. Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat.”

36. Esau het geantwoord: “Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer bedrieg: hy het my reg as eersgeborene gevat en nou het hy my seën gevat.”Toe vra Esau: “Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?”

37. Isak het vir hom gesê: “Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my seun.”

38. Esau het toe vir sy pa gesê: “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!”Toe Esau daarna begin huil,

39. sê sy pa Isak vir hom:“Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees,en ook ver van die dou uit die hemel af.

40. Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien,maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 27