Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:9-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel. Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as vir sy besoekers.”Hulle het vir Lot teruggedruk en nader gekom om die deur oop te breek.

10. Toe het die mans wat in sy huis was, vir Lot binnetoe getrek na hulle toe en die deur gesluit,

11. en die mans buite by die deur, oud en jonk, laat blind word sodat hulle nie die deur kon kry nie.

12. Die mans by Lot sê toe vir hom: “Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit!

13. Ons gaan hierdie plek verdelg. Daar is 'n groot geroep by die Here oor die plek en sy mense, en Hy het ons gestuur om die plek te verdelg.”

14. Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: “Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg,” maar hulle het gedink Lot maak 'n grap.

15. Toe die dag begin breek, het die engele hom aangejaag en gesê: “Kom nou! Vat jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, anders sterf jy wanneer die stad sy straf kry.”

16. Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm.

17. Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.”

18. Maar hy sê vir hulle: “Asseblief tog, Menere,

19. u was al so goed vir my en u het my al so 'n groot guns bewys deur my lewe te spaar, maar ek sal nie berge toe kan vlug nie. Die ramp sal my inhaal voor ek daar is en ek sal omkom.

20. Kyk, hier naby is 'n dorpie waarheen ek kan vlug. Ek wil daarheen vlug en so my lewe red. Dit is maar 'n ou klein dorpie.”

21. Toe sê die engel vir hom: “Ook wat dit betref, staan ek jou versoek toe. Ek sal nie die dorp waarvan jy praat, verwoes nie.

22. Vlug gou daarnatoe, want ek kan niks aan die ander stede doen voordat jy in die dorpie aangekom het nie.”Dit is waarom hulle die dorpie Soar noem.

23. Net toe die son opkom, het Lot in Soar aangekom.

24. Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra.

25. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.

26. Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19