Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 17:17-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir 'n man van honderd 'n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, 'n kind in die wêreld bring?

18. En Abraham het vir God gesê: “As Ismael maar net in u teenwoordigheid kan bly lewe!”

19. Maar God het vir Abraham gesê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom hou as 'n blywende verbond, en ook met sy nageslag.

20. Ek het gehoor wat jy oor Ismael gesê het. Kyk, Ek seën hom ook. Ek maak hom vrugbaar, en Ek sal sy nakomelinge baie maak. Uit hom sal daar twaalf heersers stam, en Ek sal hom 'n groot nasie laat word.

21. Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor 'n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom.”

22. Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy van Abraham af weggegaan.

23. Op daardie selfde dag het Abraham sy seun Ismael gevat en al die slawe wat in sy besit gebore is, en ook dié wat hy met geld gekoop het, elke lid van die manlike geslag in sy huis, en hy het hulle besny, soos God vir hom gesê het.

24. Abraham was nege en negentig toe hy besny is,

25. en sy seun Ismael dertien.

26. Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny.

27. Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.

Lees volledige hoofstuk Genesis 17