Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dieselfde dag het koning Ahasveros die eiendom van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Ester het aan die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is, en hy het toe voor die koning verskyn.

2. Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit aan Mordegai gegee. Ester het toe vir Mordegai oor die eiendom van Haman aangestel.

3. Ester het weer met die koning gepraat. Sy het voor hom gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek. Sy het hom gevra om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, ongedaan te maak.

4. Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en sy het voor hom gaan staan

5. en gesê: “As die koning dit goedvind, as u my goedgesind is, en as dit vir u reg lyk en u van my hou, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman seun van Hammedata die Agagiet te herroep. Hy het daarin geskrywe dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word.

6. Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so 'n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk as my familie uitgeroei word?”

7. Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het Haman se eiendom vir Ester gegee en hom laat ophang aan die galg omdat hy die Jode wou uitroei.

8. Skryf julle dan nou maar wat julle goeddink aan die Jode. Skryf dit in my naam en verseël dit met my seëlring. 'n Proklamasie wat in die naam van die koning geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan egter nie herroep word nie.”

9. Toe is die skrywers van die koning dadelik ontbied. Dit was op die drie en twintigste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die leiers in die honderd sewe en twintig provinsies van Indië af tot by Kus wou beveel. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook aan die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf.

10. Mordegai het geskryf in die naam van koning Ahasveros en die briewe verseël met die seëlring van die koning. Die briewe is uitgestuur met boodskappers op resiesperde uit die koninklike stalle.

Lees volledige hoofstuk Ester 8