hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die koning vereer vir Mordegai

1. Daardie nag kon die koning nie slaap nie en het hy opdrag gegee dat die annale gebring en aan hom voorgelees moet word.

2. Daarin is toe opgeteken gevind dat dit Mordegai was wat vir Bigtan en Teres ontmasker het, twee paleisbeamptes van die koning wat poortwagte was en wat saamgesweer het om koning Ahasveros te vermoor.

3. Toe vra die koning: “Watter eerbewys en erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?”Die kamerpersoneel van die koning het geantwoord: “Hy het niks ontvang nie.”

4. Toe vra die koning: “Wie is in die voorhof?”Net toe kom Haman aan in die buitenste voorhof van die paleis om by die koning aan te beveel dat Mordegai opgehang moet word aan die galg wat Haman vir hom opgerig het.

5. Die dienaars van die koning sê toe vir hom: “Haman staan in die voorhof.”Toe sê die koning: “Laat hy inkom!”

6. Haman het binnegekom en die koning het hom gevra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?”Haman het gedink: aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?

7. Toe antwoord hy die koning: “Met die man aan wie die koning graag eer wil bewys, moet soos volg gehandel word:

8. daar moet 'n koninklike kleed gebring word wat die koning self aangehad het en 'n perd waarop die koning self gery het, 'n perd met die koninklike embleem op sy kop.

9. Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”

10. Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis sit. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie.”

11. Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed vir Mordegai aangetrek, hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”

12. Daarna is Mordegai terug na die poort van die paleis toe, maar Haman is haastig huis toe, ontnugter en skaam.

13. Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe: “As dit so is dat Mordegai, voor wie jy hierdie eerste vernedering ondergaan het, tot die Joodse volk behoort, sal jy nie kan standhou voor hom nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”

14. Terwyl hulle nog met hom praat, kom die paleisbeamptes van die koning en neem vir Haman vinnig na die onthaal toe wat Ester voorberei het.