Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 10:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Terwyl Esra voor die tempel gekniel en gebid en belydenis gedoen het, het 'n groot aantal Israeliete rondom hom kom staan, mans, vrouens en kinders. Hy het gehuil en die mense het ook hard gehuil.

2. Sekanja seun van Jegiël, uit die nageslag van Elam, het toe begin praat. Hy het vir Esra gesê: “Ons het troueloos gehandel teen ons God, ons het met vreemde vroue getrou, vroue uit die heidennasies. Tog is daar nog hoop vir Israel.

3. Kom ons maak 'n plegtige onderneming teenoor ons God dat ons al dié vrouens en hulle kinders sal wegstuur. Laat ons doen wat u en dié wat vir die gebod van ons God eerbied het, ons aanraai in ooreenstemming met die wet.

4. Die saak is in u hande. Ons ondersteun u. Staan op, pak dit aan en doen dit.”

5. Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en ook die hele Israel 'n eed laat aflê dat hulle dit sou doen. Hulle het die eed afgelê,

6. en Esra is toe van die tempel af na die kamer van Joganan seun van Eljasib toe. Hy het daarheen gegaan maar niks geëet of gedrink nie, want hy was besig om te rou oor die troueloosheid van die ballinge wat teruggekom het.

7. Al hierdie ballinge in Juda en Jerusalem is toe opgeroep vir 'n byeenkoms in Jerusalem.

8. Die ampsdraers en die leiers het besluit dat al die besittings van enigiemand wat nie binne drie dae daar was nie, gekonfiskeer sou word en dat hy self afgesny sou word van die gemeente van ballinge wat teruggekom het.

9. Die manne van Juda en Benjamin het almal binne die drie dae in Jerusalem bymekaargekom. In die negende maand, op die twintigste van die maand, was al die mense op die tempelplein. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook van die spanning.

10. Toe staan die priester Esra op en sê vir hulle: “Julle het troueloos opgetree. Julle het met vreemde vrouens getrou en daardeur die oortredings van Israel teen God nog meer gemaak.

11. Doen belydenis voor die Here die God van julle voorvaders en doen wat Hy wil hê: skei julle af van die heidennasies en die vreemde vrouens.”

12. Die gemeente het eenparig hardop geantwoord: “Alles wat u sê, moet ons doen.

Lees volledige hoofstuk Esra 10