Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 38:2-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “Mens, draai jou gesig na Magog se land toe, na Gog toe, die hoofregeerder van Mesek en Tubal, tree op as profeet teen hom

3. en sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, Gog, hoofregeerder van Mesek en Tubal.

4. Ek gaan jou in 'n ander rigting draai, Ek gaan hake in jou kakebene steek en jou uit jou land bring, jou en jou hele leërmag, die groot menigte perde en ruiters, almal pragtig aangetrek, almal toegerus met skilde en met swaarde in die hand.

5. Persië, Kus en Put, almal met skild en helm, is saam met jou soldate,

6. Gomer met al sy hordes, Bet-Togarma met syne, ver uit die noorde. Daar is 'n menigte volke tot jou beskikking.

7. Maak klaar, hou jou gereed, jy en die hele leërmag wat jy bymekaar laat kom het, staan gereed saam met hulle.

8. Jy sal na 'n lang tyd, in die verre toekoms, bevel kry en na 'n land toe gaan wat herstel is ná oorlog en waar baie mense weer tussen ander volke uit bymekaargebring is, daar op die berge van Israel wat so lank verwoes gelê het. Die mense is tussen die volke uit teruggebring en hulle woon almal veilig.

9. Jy sal soos 'n stormwind op hulle toeslaan en soos 'n wolk die land bedek, jy en al jou hordes en die baie volke wat tot jou beskikking is.”

10. So sê die Here my God: “Daardie dag sal daar gedagtes by jou opkom en sal jy 'n bose plan bedink.

11. Jy sal dink: ek gaan dié land wat so oop lê, aanval. Die mense woon so onbesorg en rustig, hulle woon in stede sonder mure en sonder poorte met sluitbalke;

12. ek gaan hulle plunder en hulle besittings buit. Jy sal besluit om 'n aanval te maak op die puinhope wat weer bewoon word, die mense wat tussen die nasies uit versamel is en weer vee en besittings het en op die middelpunt van die aarde woon.

13. Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis en sy buitedorpe sal vir jou vra: ‘Het jy gekom om te plunder? Het jy jou leërmag bymekaargemaak om oorlogsbuit te kry, om silwer en goud weg te dra, om vee en besittings te vat? Is jy op 'n groot plundertog uit?’

14. “Tree op as profeet, mens, en sê vir Gog: So sê die Here my God: Jy sal weet wanneer my volk sonder kommer oor hulle veiligheid in die land woon,

15. en dan sal jy uit jou land ver in die noorde kom met die baie manskappe wat tot jou beskikking is, almal ruiters te perd, 'n groot mag, 'n magtige leër.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 38