Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:3-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie.

4. Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders.

5. Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle 'n prooi vir roofdiere.

6. My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.”

7. Daarom, herders, hoor die woord van die Here:

8. “My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.”

9. Hoor die woord van die Here, herders!

10. So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”

11. So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.

12. Soos 'n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag.

13. Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land.

14. Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel.

15. Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God.

16. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34