Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:15-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God.

16. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.

17. “En wat julle betref, my kleinvee,” sê die Here my God, “Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap en tussen skape en bokke.

18. Party van julle het die beste gras afgewei en boonop wat oorgebly het, vertrap. Julle het skoon water gedrink en wat oorgebly het, vuil gemaak.

19. My ander skape moes die gras vreet wat deur julle vertrap is en die water drink wat deur julle vuil gemaak is.

20. “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou regverdig oordeel tussen die vet skape en die maeres.

21. Julle het die swakkes met julle lywe en skouers weggestoot en hulle met julle horings gestamp totdat julle hulle weggedryf het.

22. Maar Ek gaan my kleinvee red. Hulle sal nie meer uitgelewer wees as buit nie. Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap.

23. Ek gaan vir hulle net een herder aanstel, en hy sal vir hulle sorg: my dienaar Dawid. Hy sal vir hulle sorg, hy sal vir hulle 'n herder wees.

24. Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê.

25. Ek sal met hulle 'n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring. Ek sal die roofdiere uitroei uit die land sodat my kleinvee veilig kan wees in die weiveld en in die bosse kan slaap.

26. Ek maak hulle en alles rondom my heuwel voorspoedig; Ek laat die reëns val op die regte tyd, reëns wat voorspoed sal bring.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34