Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Soos 'n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag.

13. Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land.

14. Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel.

15. Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God.

16. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.

17. “En wat julle betref, my kleinvee,” sê die Here my God, “Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap en tussen skape en bokke.

18. Party van julle het die beste gras afgewei en boonop wat oorgebly het, vertrap. Julle het skoon water gedrink en wat oorgebly het, vuil gemaak.

19. My ander skape moes die gras vreet wat deur julle vertrap is en die water drink wat deur julle vuil gemaak is.

20. “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou regverdig oordeel tussen die vet skape en die maeres.

21. Julle het die swakkes met julle lywe en skouers weggestoot en hulle met julle horings gestamp totdat julle hulle weggedryf het.

22. Maar Ek gaan my kleinvee red. Hulle sal nie meer uitgelewer wees as buit nie. Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34