Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 31:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Ek het hom 'n mooi boom gemaak met sy baie takke,en al die bome in die godetuin Edenwas jaloers op die seder.”

10. So sê die Here my God: “Die seder het hoog gegroei, sy top was tussen die wolke, maar sy hoogte het hom hooghartig gemaak.

11. Daarom het Ek hom oorgegee in die mag van die gesagvoerder oor die volke. Dié het met hom gedoen wat sy boosheid verdien. Ek het die seder verwerp.

12. Vreemdes het hom afgekap, wrede nasies, en hom omgegooi. Sy takke het geval op die berge en in al die valleie, stukkend geval in al die klowe van die aarde. Al die volke van die aarde moes sy skaduwee verlaat en hom daar laat lê.

13. “Al die voëls het kom sit op sy omgevalle stam, al die wilde diere het tussen sy takke rondgeloop.

14. Geen boom by die water sal weer so hoog groei nie, nie een se top sal tot tussen die wolke kom nie, geen boom sal weer soveel water hê dat hy so hoog sal staan nie. Hulle word almal oorgegee in die mag van die dood. Hulle plek is onder die grond tussen die mense wat in die graf is.”

15. So sê die Here my God: “Die dag toe die seder na die doderyk toe af is, het Ek die onderaardse waters oor hom laat treur en die strome teruggehou, sodat die baie water opgeraak het. Ek het die Libanon ook laat treur oor die seder; al die bome het verdroog.

16. Ek het die nasies laat sidder van die gedreun van die seder se val toe Ek hom die doderyk ingestuur het na dié toe wat in die graf is. Al die bome van Eden, die uitsoekbome, die bestes op die Libanon, almal wat aan die water gestaan het, was bly daar onder die aarde.

17. Hulle is ook saam na die doderyk toe, na dié toe wat gesneuwel het. Maar die mense wat in die seder se skaduwee gewoon het, is onder die nasies verstrooi.

18. “Wie onder die bome van Eden het soveel mag gehad, was so groot as jy, koning van Egipte? Tog sal jy saam met die bome van Eden afgaan graf toe en daar tussen die eerloses lê saam met dié wat gesneuwel het, jy, farao, en jou hele leër.”Die Here my God sê dit.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 31