Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 30:10-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. So sê die Here my God: “Ek maak deur koning Nebukadnesar van Babel 'n einde aan die mag van Egipte.

11. Nebukadnesar en sy mense, 'n wrede nasie, word gebring om Egipte te verwoes. Hulle gaan die land aanval en hom vol dooies maak.

12. Ek laat die riviere opdroog en gee die land oor in die mag van slegte mense. Ek laat die land en alles in hom verwoes deur vreemdes. Ek, die Here, het gepraat.”

13. So sê die Here my God: “Ek roei die afgode uit, Ek maak 'n end aan die afgode in Memfis. Daar sal nie meer 'n regeerder in Egipte wees nie. Ek laat angs heers in Egipte.

14. Ek verwoes Patros, Ek laat Soan verbrand, Ek straf No.

15. Ek laat my toorn losbreek teen Sin, die vestingstad van Egipte, Ek roei die leërmag in No uit.

16. Ek laat Egipte verbrand. Sin sal krul van pyn, No sal platgeloop word, Memfis sal helder oordag beleër word.

17. Die jongmanne van Awen en Pi-Beset sal doodgemaak word en die ander inwoners sal in ballingskap weggevoer word.

18. In Tagpanges sal dit oordag donker word wanneer Ek die heerskappy van Egipte breek, wanneer die mag waarop hy hom beroem het, tot 'n end kom. Donker wolke sal hom bedek en sy dorpe se inwoners sal in ballingskap weggevoer word.

19. Ek gaan Egipte straf; hulle sal besef dat Ek die Here is.”

20. Op die sewende van die eerste maand, in die elfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom:

21. “Mens, Ek het die farao, koning van Egipte, se arm gebreek, en die arm is nie verbind en gespalk sodat dit gesond kan word en weer sterk genoeg kan wees om 'n swaard vas te hou nie.”

22. So sê die Here my God: “Ek tree op teen die farao, koning van Egipte. Ek breek altwee sy arms, die gesonde en die gebreekte arm, en Ek laat die swaard uit sy hand uit val.

23. Ek jaag die Egiptenaars uitmekaar onder die ander nasies in, Ek verstrooi hulle oor ander lande.

24. Ek maak die koning van Babel se arms sterk, Ek sit 'n swaard in sy hand, maar Ek breek die farao se arms; hy sal voor die koning van Babel lê en kreun soos iemand wat dodelik gewond is.

25. Ek maak die koning van Babel se arms sterk, maar die farao s'n sal slap hang. Wanneer Ek my swaard in die koning van Babel se hand sit en hy die swaard na Egipte toe uitsteek, sal die Egiptenaars besef dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 30