Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 29:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Egipte gaan verlate en in puin lê. Hy het gesê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak’, maar hy sal besef dat Ek die Here is.

10. “Ek gaan optree teen jou en jou rivier: Ek gaan Egipte 'n verlate puinhoop maak, van Migdol af tot by Sewene en tot aan die grens van Kus.

11. Geen mens of dier sal 'n voet daar sit nie, en daar sal veertig jaar lank niemand woon nie.

12. Ek gaan Egipte 'n verlate land tussen verlate lande maak, en sy stede sal veertig jaar lank verlate lê tussen stede wat in puin lê. Ek gaan die Egiptenaars uitmekaarjaag onder ander nasies in, hulle oor ander lande verstrooi.

13. “Maar,” so sê die Here my God, “na veertig jaar sal Ek die Egiptenaars bymekaarmaak onder die volke uit waarheen Ek hulle verjaag het.

14. Ek sal die lot van Egipte verander en hulle terugbring na Patros toe, die land van hulle herkoms. Daar sal hulle 'n klein koninkrykie wees.

15. Egipte sal kleiner as ander koninkryke wees en hom nooit weer bo ander nasies verhef nie. Ek sal hom so swak maak dat hy nie weer oor ander nasies sal heers nie.

16. Hy sal nie meer die mag wees waarop Israel vertrou nie, hy sal aanhou herinner aan die sonde wat Israel gedoen het deur hom na Egipte te wend om hulp. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.”

17. Op die eerste van die eerste maand, in die sewe en twintigste jaar, het die woord van die Here tot my gekom:

18. “Mens, koning Nebukadnesar van Babel het sy leër harde werk laat doen in sy aanval op Tirus. Almal se koppe was kaal geskaaf en almal se skouers deurgeskuur. Maar hy en sy leër se moeite is nie uit Tirus beloon nie.

19. “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek Egipte vir koning Nebukadnesar van Babel gee. Hy sal Egipte se rykdomme wegdra; hy sal die land plunder en die buit vat wat hy daar kry. Dit sal sy leër se beloning wees.

20. Ek gaan Egipte vir hom gee as betaling vir sy werk daar, want hy het dit vir My gedoen,” sê die Here my God.

21. “Daardie dag laat Ek Israel se mag weer groei en laat Ek jou, Esegiël, weer vry-uit praat tussen hulle. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 29