Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 17:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die farao sal nie in die geveg help met 'n groot leërmag, met baie manskappe nie. Inteendeel, daar sal 'n beleëringswal teen Jerusalem opgegooi word en beleëringswerke gebou word met die doel om baie mense uit te roei.

18. Die koning het sy eed van getrouheid geminag en die ooreenkoms verbreek. Hy het 'n plegtige onderneming gemaak en toe tog al hierdie dinge gedoen: hy kan nie vrykom nie.”

19. So sê die Here my God: “So seker as Ek leef, Ek laat hom die gevolge dra daarvan dat hy die eed van getrouheid aan My geminag en die verbond met My verbreek het.

20. Ek gooi my vangnet oor hom, hy word gevang in my net, en Ek bring hom na Babel toe waar Ek hom sal laat boet vir sy ontrou aan My.

21. Al sy soldate wat saam met hom sal probeer vlug, sal met die swaard doodgemaak word, en dié wat oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Dan sal hulle besef dat dit Ek, die Here, is wat gepraat het.”

22. So sê die Here my God: “Ek vat die top van die hoë seder weg en plant hom, Ek pluk die sagte boonste takkie af en plant hom op 'n hoë berg.

23. Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal 'n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak.

24. Al die bome in die veld sal weet dat Ek die Here is. Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droë bome bot. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 17