Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 17:15-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Maar die nuwe koning van Jerusalem het in opstand gekom teen die koning van Babel en gesante na Egipte toe gestuur om perde en baie manskappe te vra. Maar sal hy slaag met sy onderneming? Sal hy vrykom as hy so iets doen? Sal hy vrykom as hy die ooreenkoms verbreek?

16. “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “hy sal binne-in Babel sterf, in die stad van die koning wat hom koning gemaak het. Hy het sy eed van getrouheid aan daardie koning geminag en die ooreenkoms met hom verbreek.

17. Die farao sal nie in die geveg help met 'n groot leërmag, met baie manskappe nie. Inteendeel, daar sal 'n beleëringswal teen Jerusalem opgegooi word en beleëringswerke gebou word met die doel om baie mense uit te roei.

18. Die koning het sy eed van getrouheid geminag en die ooreenkoms verbreek. Hy het 'n plegtige onderneming gemaak en toe tog al hierdie dinge gedoen: hy kan nie vrykom nie.”

19. So sê die Here my God: “So seker as Ek leef, Ek laat hom die gevolge dra daarvan dat hy die eed van getrouheid aan My geminag en die verbond met My verbreek het.

20. Ek gooi my vangnet oor hom, hy word gevang in my net, en Ek bring hom na Babel toe waar Ek hom sal laat boet vir sy ontrou aan My.

21. Al sy soldate wat saam met hom sal probeer vlug, sal met die swaard doodgemaak word, en dié wat oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Dan sal hulle besef dat dit Ek, die Here, is wat gepraat het.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 17