Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 17:11-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die woord van die Here het tot my gekom:

12. “Jy moet vir hierdie weerbarstige volk vra: Weet julle nie wat dit beteken nie?“Jy moet sê: Die koning van Babel het na Jerusalem toe gekom, die koning en die amptenare van die stad gevat en na hom toe in Babel gebring.

13. Daarna het hy iemand uit die koninklike geslag gevat, met hom 'n ooreenkoms gemaak en hom 'n eed van trou laat sweer. Die koning van Babel het die vooraanstaande mense uit die land weggevat

14. sodat die koninkryk swak sou wees en nie in opstand sou kom nie en sodat daar aan die ooreenkoms gehou sou word en dit sou bly bestaan.

15. Maar die nuwe koning van Jerusalem het in opstand gekom teen die koning van Babel en gesante na Egipte toe gestuur om perde en baie manskappe te vra. Maar sal hy slaag met sy onderneming? Sal hy vrykom as hy so iets doen? Sal hy vrykom as hy die ooreenkoms verbreek?

16. “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “hy sal binne-in Babel sterf, in die stad van die koning wat hom koning gemaak het. Hy het sy eed van getrouheid aan daardie koning geminag en die ooreenkoms met hom verbreek.

17. Die farao sal nie in die geveg help met 'n groot leërmag, met baie manskappe nie. Inteendeel, daar sal 'n beleëringswal teen Jerusalem opgegooi word en beleëringswerke gebou word met die doel om baie mense uit te roei.

18. Die koning het sy eed van getrouheid geminag en die ooreenkoms verbreek. Hy het 'n plegtige onderneming gemaak en toe tog al hierdie dinge gedoen: hy kan nie vrykom nie.”

19. So sê die Here my God: “So seker as Ek leef, Ek laat hom die gevolge dra daarvan dat hy die eed van getrouheid aan My geminag en die verbond met My verbreek het.

20. Ek gooi my vangnet oor hom, hy word gevang in my net, en Ek bring hom na Babel toe waar Ek hom sal laat boet vir sy ontrou aan My.

21. Al sy soldate wat saam met hom sal probeer vlug, sal met die swaard doodgemaak word, en dié wat oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Dan sal hulle besef dat dit Ek, die Here, is wat gepraat het.”

22. So sê die Here my God: “Ek vat die top van die hoë seder weg en plant hom, Ek pluk die sagte boonste takkie af en plant hom op 'n hoë berg.

23. Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal 'n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 17