Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Op die vyfde van die vierde maand, in die dertigste jaar, was ek tussen die ballinge aan die Kebarrivier. Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom.

2. Dit was op die vyfde van die maand en dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin.

3. Die woord van die Here het tot die priester Esegiël seun van Busi gekom. Dit het gebeur aan die Kebarrivier in Galdeërland. Die mag van die Here het vir Esegiël daar in besit geneem.

4. Ek het 'n gesig gesien. Daar het 'n storm uit die noorde gekom, 'n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was 'n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal.

5. Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het 'n mensvormige voorkoms gehad,

6. maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.

7. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is.

8. Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar menshande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad.

9. Die een se vlerke het aan die een langs hom s'n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1