Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het Moses en Aäron na die farao toe gegaan en gesê: “So sê die Here die God van Israel: Laat my volk gaan om tot my eer 'n fees in die woestyn te vier.”

2. Maar die farao het geantwoord: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie!”

3. Hulle sê toe: “Die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise die woestyn in trek om 'n offer vir ons God, die Here, te bring, anders tref Hy ons dalk met die pes of die swaard.”

4. Maar die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe!

5. Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!”

6. Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel:

7. “Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak,

8. en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’

9. Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.”

10. Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: “So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 5