Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:26-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

27. Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.”

28. Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring.

29. Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”

30. Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

31. Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak.

32. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”

33. Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee.

34. Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.”

35. Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32