Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:12-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie.

13. Dink aan wat U met 'n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14. Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15. Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf,

16. en dit was die werk van God. Dit was 'n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

17. Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”

18. Maar Moses het gesê:“Dit klink nie na oorwinning nie,dit klink nie na neerlaag nie,wat ek hoor, klink na feesviering.”

19. Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg.

20. Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

21. Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

22. Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is.

23. Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’

24. Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”

25. Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het,

26. het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32