Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die land sal so toe wees onder hulle dat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal elke groenigheidjie afvreet wat oorgebly het na die hael, selfs dié van elke boom wat weer uitloop.

6. Hulle sal oral in jou paleise wees, in die huise van al jou amptenare en van elke Egiptenaar. So iets het julle en al julle voorvaders nog nooit gesien vandat hulle in die land is tot nou toe nie.”Toe het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan.

7. Die amptenare sê toe vir die farao: “Hoe lank gaan dié man nog vir ons moeilikheid gee? Laat hulle nou maar gaan om hulle God, die Here, te dien, maar net die mans. U sien tog dat Egipte te gronde gaan.”

8. Toe is Moses en Aäron na die farao toe teruggebring en hy sê vir hulle: “Gaan dien julle God, die Here! Maar wie gaan almal saam?”

9. Moses antwoord: “Ons gaan almal, met ons jong manne en ons ou manne, met ons seuns en ons dogters, met ons kleinvee en ons grootvee, want ons moet vir die Here 'n fees gaan hou.”

10. Maar die farao sê vir hulle: “Die Here is net so min met julle as wat ek julle vrouens en kinders saam met julle sal laat gaan. Julle het 'n verkeerde ding in die kop.

11. So sal ek dit nie toelaat nie! Net die mans gaan! Gaan dien die Here; dit is mos wat julle nog altyd vra!”Toe is hulle van die farao af weggejaag.

12. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte dat daar sprinkane oor die land kan kom om elke groen sprietjie op te vreet wat van die hael oorgebly het.”

13. Toe steek Moses sy kierie oor Egipte uit, en die Here het daardie hele dag en nag 'n oostewind laat waai wat die sprinkane aangebring het. Die volgende môre was hulle daar.

14. Hulle het oor Egipte gekom en die hele land vol gesit, 'n yslike groot sprinkaanswerm, soos daar nog nooit tevore was nie en hierna ook nie weer sal wees nie.

15. Die land was toe onder hulle en dit was donker. Hulle het elke groen sprietjie in die land opgevreet, en alles wat na die hael aan die bome oorgebly het. Daar het geen groenigheid aan 'n boom of 'n plant in Egipte oorgebly nie.

16. Die farao laat toe haastig vir Moses en Aäron roep en hy sê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle!

17. Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10