Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?

9. “Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.

10. Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’

11. “Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was 'n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het.

12. Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat. Julle het woorde gehoor maar niemand gesien nie. Daar was net 'n stem.

13. Die Here het julle die bepalings van sy verbond meegedeel en julle beveel om hulle te gehoorsaam: die tien gebooie wat Hy op die twee plat klippe geskryf het.

14. Die Here het my destyds beveel om julle die voorskrifte en die bepalings te leer sodat julle daarvolgens kan lewe in die land waarheen julle sal deurtrek om dit in besit te gaan neem.

15. Pas op! Die lewe is vir julle op die spel. Die Here self het met julle op Horeb uit die vuur uit gepraat, al het julle dié dag niemand gesien nie.

16. Moenie julle eie ondergang soek deur vir julle 'n afbeelding as afgodsbeeld te maak nie: nie van 'n man of 'n vrou nie,

17. nie van enige dier op die aarde of van enige voël in die lug nie,

18. nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie.

19. “Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.

20. “Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is.

21. Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4