Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4:38-49 Afrikaans 1983 (AFR83)

38. om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog.

39. “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog 'n god nie.

40. Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie wat ek julle vandag beveel, sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.”

41. Toe het Moses drie stede oos van die Jordaan uitgesonder as stede

42. waarheen iemand kon vlug as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. As hy dan na een van hierdie stede toe vlug, kon hy bly lewe.

43. Die stede was: Beser in die Woestynhoogvlakte vir Ruben, Ramot in Gilead vir Gad, en Golan in Basan vir Manasse.

44. Dit is die wet wat Moses vir die Israeliete gegee het:

45-46. die verordeninge en voorskrifte en bepalings wat Moses aan die oostekant van die Jordaan in die vlakte regoor Bet-Peor vir die Israeliete afgekondig het nadat hulle uit Egipte weggetrek het. Bet-Peor was geleë in die gebied van koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het en deur Moses en die Israeliete verslaan is nadat hulle uit Egipte weggetrek het.

47. Hulle het Sihon se gebied en dié van koning Og van Basan in besit geneem. Sihon en Og was die twee Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan,

48. en hulle gebied het gestrek van Aroër op die Arnonoewer af tot by Sionsberg, dit is Hermon,

49. met insluiting van die oostekant van die Jordaanvallei tot by die see in die Jordaanvallei onderkant die Pisgahange.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 4