Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Ons het weggedraai met die pad na Basan toe, en koning Og van Basan het met sy hele leër teen ons opgeruk om by Edreï teen ons te veg.

2. Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie, want Ek gee hom en sy hele leër en sy hele land in jou mag oor, en jy moet met hom maak soos jy gemaak het met koning Sihon van die Amoriete, wat in Gesbon gewoon het.’

3. “Die Here ons God het toe vir koning Og van Basan en sy hele leër in ons mag oorgegee. Ons het hom verslaan en nie een van sy mense het weggekom nie.

4. Ons het destyds ál sy stede verower. Daar is nie een van die sestig stede in die Argobstreek waar Og se ryk in Basan was, wat ons nie afgevat het van sy mense nie.

5. Al hierdie stede was versterk met hoë mure en met poorte met sluitbalke. Daar was ook baie dorpe sonder mure,

6. en ons het hulle almal heeltemal verwoes soos ons gemaak het met koning Sihon van Gesbon wie se stede ons met mans, vrouens, kinders en al uitgewis het.

7. Ons het net die vee en wat daar in die stede te buit was, vir ons gevat.

8. “Ons het destyds die gebied van die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan afgevat: die gebied van die Arnonrivier af tot by Hermonberg,

9. die berg wat Sirjon genoem word deur die mense van Sidon, en Senir deur die Amoriete.

10. Ons het ál die stede in die Hoogvlakte verower en die hele Gilead en Basan tot by Salka en Edreï, die stede en die ryk van Og in Basan.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3