Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:58-68 Afrikaans 1983 (AFR83)

58. “Sorg dat jy lewe volgens al die bepalings van hierdie wet wat in hierdie boek opgeteken is, dat jy eerbied betoon aan die Here jou God, Hy aan wie se Naam eer en ontsag toekom.

59. As jy dit nie doen nie, sal Hy ontsettende rampe oor jou en jou nageslag bring, groot en langdurige rampe, kwaadaardige en ongeneeslike siektes.

60. Hy sal al die siektes van Egipte oor jou bring, alles waarvoor jy bang is, en hulle sal ongeneeslik wees.

61. Die Here sal ook al die siektes en rampe wat nie in hierdie wetboek genoem is nie, oor jou laat kom totdat Hy jou uitgeroei het.

62. “Julle was so baie soos die sterre aan die hemelruim, maar daar sal net 'n klompie van julle oorbly omdat jy nie die Here jou God gehoorsaam het nie.

63. “Soos die Here jou God Hom oor julle verbly het toe Hy aan julle goed gedoen en julle baie gemaak het, so sal Hy Hom verbly wanneer Hy julle tot niet maak en julle uitroei. Julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.

64. Die Here sal jou verstrooi onder al die volke, oor die hele aarde. Daar sal jy ander gode dien wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, gode van hout en klip.

65. Onder daardie nasies sal jy nie vrede vind nie, nie eers 'n rusplek vir jou voete nie. Die Here sal jou daar 'n hart vol angs gee, oë wat ingee, 'n lewe wat wegkwyn.

66. Jou lewe sal aan 'n draadjie hang, jy sal dag en nag in vrees lewe, jy sal jou lewe lank onveilig wees.

67. In die môre sal jy sê: ‘Was dit maar aand!’ en in die aand sal jy sê: ‘Was dit maar môre!’ so vol vrees sal jy wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe.

68. “Die Here sal jou met die pad waarvan ek vir jou gesê het jy sal dit nie meer sien nie, terugvat Egipte toe in groot ellende. Daar sal julle julleself aan jou vyande as slawe en slavinne te koop aanbied, maar daar sal nie 'n koper wees nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28