Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:23-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Julle moet net sorg dat julle nie die bloed eet nie, want die lewe van 'n dier is in sy bloed, en julle mag nie die lewe saam met die vleis eet nie.

24. Julle mag die bloed nie eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.

25. As julle dit nie eet nie, doen julle wat reg is in die oë van die Here, en dan sal dit goed gaan met julle en julle nageslag.

26. Alle gewyde gawes wat julle by julle het en alles wat julle met 'n gelofte aan die Here beloof het, moet julle bring na die plek toe wat die Here sal kies.

27. Julle moet julle brandoffers, die vleis en die bloed daarvan, op die altaar van die Here julle God neersit. Die bloed van julle ander offers moet julle teen die altaar van die Here julle God uitgooi en dan mag julle die vleis eet.

28. Julle moet al die gebooie wat ek julle gegee het, gehoorsaam en dan sal dit vir altyd goed gaan met julle en julle nageslag, want dan doen julle wat goed en reg is in die oë van die Here julle God.

29. “Die Here julle God sal die nasies verslaan na wie toe julle op pad is om hulle te verdryf. As julle hulle oorwin het en in hulle land woon,

30. moet julle sorg dat julle nie, selfs nadat hulle deur julle verslaan is, deur hulle in 'n valstrik gelei word wanneer julle na hulle gode sou begin uitvra nie. Moenie sê: ‘Hoe vereer hierdie nasies hulle gode? Ek sou dit ook so wou doen’ nie.

31. Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop hulle hulle gode dien nie, want wat hierdie nasies doen, is afskuwelik vir die Here: hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters vir hulle gode. Die Here haat dit alles.

32. “Elke gebod wat ek julle beveel het, moet julle gehoorsaam en daarvolgens moet julle lewe; julle mag daar niks bysit en niks daarvan wegvat nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12