Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. “Julle het self beleef wat Hy vir julle gedoen het in die woestyn en totdat julle tot hier gekom het,

6. wat Hy gedoen het met Datan en Abiram, seuns van Eliab seun van Ruben, toe die aarde oopgeskeur het en hulle en hulle familie en hulle eiendom, selfs al hulle vee ingesluk het voor die oë van al die Israeliete.

7. Met julle eie oë het julle al hierdie groot dade gesien wat die Here gedoen het.

8. “Julle moet alles gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat julle sterk kan optree en die land wat julle gaan verower, kan binnegaan en in besit neem.

9. As julle gehoorsaam is, sal julle baie lank bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders en hulle nageslag te gee. Dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning.

10. Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit 'n groentetuin is.

11. Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater.

12. Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.

13. “As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel,

14. sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes.

15. Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet.

16. “Pas op dat julle nie verlei word om ander gode te gaan dien en vereer nie,

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11