Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:10-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit 'n groentetuin is.

11. Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater.

12. Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.

13. “As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel,

14. sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes.

15. Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet.

16. “Pas op dat julle nie verlei word om ander gode te gaan dien en vereer nie,

17. want dan sal die toorn van die Here teen julle ontvlam, en Hy sal dit nie laat reën nie, die aarde sal nie meer sy opbrengs lewer nie, en julle sal baie gou verdwyn uit die goeie land wat die Here aan julle gee.

18. Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet 'n merk op julle voorkoppe wees.

19. “Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

20. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

21. Dan sal julle en julle nageslag lank, ja, so lank as die hemel en die aarde sal bestaan, bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee.

22. “As julle al hierdie gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang,

23. sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die grondgebied van nasies wat groter en sterker is as julle, in besit neem.

24. Elke plek waar julle kom, sal julle s'n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11